Nadia Beukes en haar man,
David de Villiers, op hulle
wittebrood in Venesië.
As die skoen jou pas...
O
50
Deur Nadia Beukes
m ’n skoen te kry wat behoorlik pas, is beslis nie
altyd maklik nie. Ek glo die meeste vroue – en
hopelik ook van die manne – sal met my saamstem dat die soektog na spesifieke skoene effens
uitdagend kan wees.
Die afgelope ruk het ek ’n soektog na trouskoene gehad.
’n Mens sou dink dis ’n opwindende avontuur vir ’n bruid, maar
ek moet bieg vir my was dit allesbehalwe ’n Aspoestertjie-verhaal
waar die prins die perfekte fyn glasskoentjie nommerpas aan my
voet plaas.
Van oral is daar soveel druk – en nou praat ek nie van skoene
wat druk nie! – om die perfekte skoen te kry. Pinterest, bruidsgidse, flieks, sprokiesverhale en kleintyddrome speel alles ’n rol.
Daar is ook geen reëls as dit kom by trouskoene nie. Enigiets
kan werk: leerstewels, blou of rooi skoene, sneakers met blinkers
op, enigiets wat jou hart begeer. Jy moet net weet wat jy wil hê.
My lysie van vereistes het só gelyk: Nie te hoog nie. Nie te laag
nie. Effens formeel, maar nie só blink dat dit ooit die aandag
aftrek van die rok nie. Gemaklik, elegant, uniek en beskikbaar in
my grootte voor my groot dag. En, natuurlik, binne my begro
ting. Beslis makliker gesê as gedaan.
My soektog het my uiteindelik, ná die een aanpassessie op die
ander, in omtrent elke skoenwinkel in Gauteng, by ’n talentvolle
skoenmaker gebring. Hier sou ek heel moontlik al my vereistes
kon kry, behalwe om dit binne die begroting te hou.
Ongelukkig is daar perke. As jou skoene amper meer as jou
rok begin kos, dan voel ek jy moet eerder maar met jou kaal toon
’n lyn in die sand trek.
kykNET | UITGAWE 4 | 2016
Toe, minder as twee weke voor my troudag, kom ek tot die
besef daar is nêrens ’n perfekte skoen wat op my wag nie. Ek
gaan bloot ’n mooi skoen moet kies, hom vooraf effens uittrap
tot hy gemaklik is, en klein jelplakkers onder die bol van my voet
inplak om die hoogte van die hak minder intimiderend te maak.
Ek koop toe baie mooi formele sandale in ’n blospienk met
’n effense pêrelglans, die laaste paar in my grootte wat in Gauteng
beskikbaar is. Ek plak my jelplakkers en vra die skoenmaker om
die bandjies te versterk, net ingeval. Gelukkig kon ek dit gedoen
kry voor ek vir oulaas my rok gaan aanpas – nou kon ek seker
maak die soom is presies reg.
Die skoene was perfek, die aand van die bruilof was ’n droom,
en teen tienuur die aand het my strooimeisies in elk geval my
plat skoene uit die kar gaan haal om my voete tot drieuur die
oggend te laat hou.
Dit was eers toe ek twee dae later op my wittebrood in Venesië
vir ’n voetmassering saam met my man gaan dat ek besef het hoe
seer my voete is ná al die dans en partytjie. Ek vermoed dit sou so
wees met enige skoen wat my veertien uur lank moes regop hou.
Daardie dag in Italië het ek egter nie meer nodig gehad om
regop te staan nie. Trouens, ek het het agteroor gelê, slippers
aangehad en uitgestaar oor die romantiese waterstrate voor
die spa.
Hakskoene, plat skoene, slippers en stapskoene – soms selfs
kaalvoet as die skoene jou druk. Die lewe is ’n avontuur, en
elke pad wat ons aanpak, vereis ’n ander soort skoen. Mag jou
paaie gelyk wees en jou skoene gemaklik.
En as die skoen jou pas, trek hom aan.