kykNET Uitgawe 4 - 2016 | Page 20

SILWERSKERMFEES ’ n Voedingsaar

20

Soos die meeste ander feeste het die Silwerskermfees ook klein begin . Trouens , ses jaar gelede is net een rolprent by die eerste fees gewys : ’ n Saak van Geloof . Intussen het die geleentheid gegroei , en almal wat vanjaar Kampsbaai toe gekom het , is dit eens : Die fees is hier om te bly .

“ Die aktrise Nicole Kidman het vroeër vanjaar gesê : ‘ Hollywood is dead , festivals are more needed than ever .’ Dit sluit vir my Suid-Afrika in ,” sê Uga Carlini , die regisseur van Alison , die dokumentêre film oor die lewe van Alison Botha wat vanjaar by die Silwerskermfees gewys is .
“ Ons het ’ n hand vol filmfeeste in ons land , maar die Silwerskermfees is die enigste een wat Afrikaanse rolprente spesifiek ondersteun – iets wat broodnodig is . Die Silwerskermfees ondersteun nie net plaaslike talent nie ; hulle kortfilmprojek herinner my aan die Australiese model waar nuwe jong filmmakers kortflieks maak en met die beste talent in die land werk . Hulle skep werk van hoë gehalte en stel van jongs af ’ n hoë standaard . Dis vir my baie opwindend . Ek sien groot dinge kom , en elke jaar raak die talent net beter .
Hierdie is nie net ’ n vierdagpartytjie vir mense in die filmbedryf nie . Die Silwerskermfees het in ses jaar een van die belangrikste filmfeeste in Suid-Afrika geword .
Dit is ’ n baie opwindende tyd om in die filmbedryf te wees en die Silwerskermfees het vir seker ’ n aandeel daarin .”
MATTHYS BOSHOFF SE KORTFILM Vlees van My Vlees het vanjaar drie toekennings gewen : Hy is aangewys as beste regisseur , Erica Wessels is die beste aktrise in ’ n kortfilm , én die fliek as die beste kortfilm bekroon .
“ Die Silwerskermfees gee aan ervare én nuwe regisseurs die geleentheid om ’ n kort narratiewe film te maak wat deur die publiek gesien kan word ,” sê Matthys . “ Dis ’ n perfekte stap na speelfilms . Ek is ’ n gesoute reklameregisseur ,
maar kon nog nie veel belangstelling in my speelfilms lok nie . Die fees gee aan my en vele ander die geleentheid om ons drome na te jaag deur te wys wat ons kan doen . Dit is ook nie aldag dat iemand bereid is om vir jou geld te gee om ’ n hartsprojek aan te pak nie .”
Stiaan Smith het die afgelope drie jaar die fees bygewoon . “ Dis beslis ’ n voet in die deur ,” sê hy . In 2014 was hy betrokke by die kortfilm Vuil Wasgoed , in 2015 het hy die toekenning vir die beste draaiboek gewen vir die kortfilmweergawe van Beurtkrag , en vanjaar was hy daar met Sy Klink Soos Lente , ’ n speelfilm wat hy nie net geskryf het nie , maar waarin hy ook die hoofrol vertolk . “ Vir baie lank was daar etlike honger filmmakers wat hulle wou bewys , maar eenvoudig nie die geldelike vermoë gehad het om ’ n kortfilm te maak nie . Met die Silwerskermfees het daar skielik ’ n wêreld oopgegaan waar talent ontwikkel en raakgesien word .”
Volgens Stiaan is die fees ’ n goeie leerskool . “ Ek sou nooit andersins in só ’ n kort tyd só baie kon leer oor al die aspekte van die bedryf nie – van die kreatiewe tot die tegniese dinge .”
kykNET | UITGAWE 4 | 2016