kykNET Uitgawe 4 - 2016 | Page 10

BOLAND MOORDE DIE TALENTVOLLE STIAN agter baasspeurder André Hy’s ’n bekroonde verhoogakteur wat ook te sien was in trefferflieks soos Modder en Bloed en My Father’s War, en in Februarie is Stian Bam terug op die kassie in die nuwe Boland Moorde. Hy gesels oor die reeks, sy liefde vir kuns en hoe vaderskap hom verander het. Dis vier jaar ná die eerste reeks van Boland Moorde. Dink jy dié lang tydsverloop het ’n invloed gehad op die nuwe reeks? Ja. Daar was nie net emosionele groei in die akteurs nie, maar ook in die skrywers. Louis (Pretorius) en Albert (Snyman) het bewustelik besluit ons gaan nie net aan waar ons vier jaar gelede was nie – en dit was ’n goeie besluit. Hulle het besef die tydsverloop sal verdieping bring. Ek het nie my rol anders aangepak nie, maar ek moes die karakter as ’t ware gaan soek en afstof – maar dis maklik as jy ’n goeie teks het. Wat geniet jy van jou karakter? Ek hou van die feit dat André so slim is. Hy weet presies wat hy wil hê en hoe hy dit wil kry. En hy kan baie vinnig ’n teorie formuleer. Maar dit kom weer terug na die draaiboek: Daar is hierdie wonderlike woorde wat my goed laat lyk. Ek hou ook van André se foute, die feit dat hy rook en sosiaal akward is. Iets wat vir my in die kern van die karakter lê, is sy verhouding met Shane (Brendon Daniels), dat hulle so ’n sterk span vorm. 10 kykNET | UITGAWE 4 | 2016