kykNET April 2017 | Page 25

# La ’ tWiel
# SaraGeheim

Iets van alles vir

ANDRÉ

Hy is ’ n veldaanbieder vir La ’ t Wiel én Kwêla , en een van die dae is hy te sien in Sara se Geheim . Een ding is seker : André Weideman is ’ n veelsydige man .

Is dit vir jou maklik om van aanbieder na akteur te gaan ? Ja , beslis . ’ n Mens kan vele hoede dra – net liefs nie op dieselfde tyd nie ! Akteurwees lê my nog altyd na aan die hart , van skooldae af toe meneer Dirk Binneman die verhooggordyne vir my laat oopgaan het . Daar was ook die intense inspirasie en ondersteuning van Blaise Koch by die Universiteit van Stellenbosch én dié van Hennie van Greunen en Pedro Kruger , om maar net ’ n paar te noem .

Wat was vir jou die hoogtepunte met Sara se Geheim ? Om saam met die regisseurs David Isaacs , Mia Breet en Liezel Spies te werk en heerlik en gereeld te lag . En natuurlik die kans om met die ikoon Dawid Minnaar te werk én die ernstige tonele saam met Nicola Hanekom ( wat my vrou speel ). Dan was daar die tonele met Natania van Heerden waar ons soms só gelag het dat ons die trane moes afvee .
Wat is jou gunstelingmotor – en dis nou van alle tye ? Ek is ’ n Merc-man , en die 1954 Mercedes-Benz Gullwing 300SL is my gunsteling . Ek was gelukkig om die moderne weergawe , die SLS AMG , te bestuur en dit was ’ n ongelooflike ervaring . Onder daardie lang ejinkap skuil ’ n 6,2 l-V8- enjin waarvan net die klank jou hart al vinniger laat klop .
Wat is die vinnigste wat jy al gery het op La ’ t Wiel ? Ek het al lekker gewikkel teen 260 km / h in ’ n Audi RS6 , maar die Lotus Evora wat my mede-aanbieder Deon Joubert langs my gery het , was veel vinniger – soveel so dat ek nie altyd my oë op die spoedmeter gehou het nie . Dit was vrekvinnig !
Wat is die een motordroom wat jy hoop eendag bewaarheid sal word ? Ek sal graag deel wil wees van ’ n tydren met klassieke motors . Daar is een in Kuba vanjaar , en dan is daar ook die Maya-tydren in Mexiko . Of die mal Mongol-tydren wat in Londen begin en in Rusland eindig . Vir die Mongol is daar net drie reëls : die kar moet ’ n goedkoop oldie wees ; niemand mag ’ n ondersteuningspan hê nie ; en hulle moet geld vir liefdadigheid insamel . Wie weet , as kykers genoeg vra , kan ek dalk die arms van Waldo [ van der Waal ] en Hannes [ Visser ] draai vir so ’ n ekspedisie ...
Wie is jou gunsteling-motorsportpersoon van alle tye ? Ek onthou hoe my Sondae as kind om Formule 1-wedrenne gewentel het . Ek kon ure lank na die aksie kyk . Name soos Ayrton Senna , Nigel Mansell en Nelson Piquet was vir my soos persoonlike vriende . Daardie drie name sal altyd my gunstelinge bly . As jy my vra wie ek dink die beste bestuurder is , is dit La ’ t Wiel se Deon Joubert . Hoe hy daardie Lotus Evora tot sy uiterste beproef het , het my respek vir hom 100 % laat styg .
Wat is jou planne vir die res van die jaar ? Daar is eintlik nie ’ n res van die jaar vir my nie ; alles gebeur maar die heeltyd . Dan ’ n rol in ’ n fliek en dan weer TV-werk . Ook stemwerk vir radio- en TV-advertensies , radiodramas vir RSG en dan weer ’ n roadtrip met drie of vier stories vir Kwêla . Dan ry ek hier en daar vinnige ( én stadiger ) motors vir La ’ t Wiel . Maar tussendeur dit alles is ek veral gefokus op my gesin : ek , my seun , Alexander ( amper 5 ), en Rembrandt , ons labrador . Ek is pas terug in Kaapstad ná ’ n afwesigheid van agt jaar . ’ n Nuwe huis , ’ n nuwe skool en ’ n nuwe lewe as alleenouer . Sover gaan dit voor die wind !
La ’ t Wiel Vanaf Dinsdag 4 April om 17:30 op kykNET , kanaal 144 Sara se Geheim Vanaf Dinsdag 11 April om 20:00 op kykNET , kanaal 144
25
APRIL 2017 | kykNET