Agri Kultuur March/ Maart 2016 | Page 86

Artikel deur Engela Duvenage Foto’s verskaf “’n Donker, lewendige kleur; pruim en rooi bessies op die neus; goeie houtintegrasie; vol en sag afgerond.” S o lees die beskrywing van Die Laan Pinotage, een van die reeks wyne wat die afgelope paar jaar in die Universiteit Stellenbosch se eie Welgevallen Wynkelder gemaak word. Ook te koop aan die publiek is onder meer ‘n Die Laan Cabernet Sauvignon, ʼn Merlot, ‘n Cape Fortified, ʼn Chenin blanc, en die Maties Rooiplein-versnitwyn. Volgens hul etikette sal mens rooi bessies in Die Laan Cabernet Sauvignon kan ruik, en in ‘n glas Die Laan Cape Fortified weer ryp bessies en koffie kan proe. Dis ‘n tydverdryf van menige wynliefhebber om te lees wat agterop ‘n wynbottel geskryf staan – hetsy wanneer daar die eerste keer in ‘n winkel, wynboetiek of proelokaal besluit moet word wat om te koop, of wanneer ‘n glasie reeds geskink is. Dan’s daar natuurlik ook nog die beskrywings in wyngidse en op wynblogs wat as ekstra leesstof vir die weetgieriges kan dien. Baie keer vertel ‘n wynetiket die verhaal agter ‘n wyn of die geskiedenis van ‘n plaas, of meer oor die tipe kos waarmee dit goed sal gaan. Dis egter meer as net ‘n paar woorde in ‘n ry of ‘n mooi kort storietjie. Dis ‘n belangrike advertensie vir die gebottelde produk. En dis nie sommer net vir skryf nie! Woordkunstenaars sal jou vertel hoe moeilik dit is om in slegs ‘n paar kort sinne die essensie van iets of iemand te probeer vasvang. Hoe korter die teks, hoe meer die dinkwerk wat dikwels daarin moet gaan. Verstaan almal egter altyd alles wat op so ‘n wynetiket geskryf staan? Is dit nie dalk soms net te kripties nie? Is die beskrywings duidelik genoeg? Sal een land se mense ‘n ander land se wyne op dieselfde manier beskryf (en dus ook verstaan en waardeer)? Onlangs het wynnavorsers van die Universiteit Stellenbosch ‘n proefneming gedoen om te kyk of wynmakers uit Frankryk en diegene uit Suid-Afrika snap wat elkeen bedoel wanneer hulle mekaar se wyne beskryf. Die navorsing het spesifiek op Shiraz-wyne gefokus, en vorm deel van groter studies aan die US oor hoe mense wyne sensories (dus, danksy al hul sintuie) waarneem en beskryf. Die wynmakers het nie geweet uit watter kelders of land die wyne sou