Agri Kultuur March/ Maart 2016 | Page 74

Artikel deur Nelius Smith Boshoff Visser H istories is vruggebruik aangewend nie alleen om aan 'n langslewende 'n bron van inkomste te gee nie, maar ook in 'n poging om boedelbelasting by die eerssterwende te verminder. Vruggebruik se waardasie by dood hou egter ernstige komplikasies in vir boedelbelasting en behoort vruggebruikhouers en blote eiendomsreghouers sorgvuldig te beplan oor die hantering van die vruggebruik. 'n Bepaling in 'n testament van 'n boer het dikwels gelees: Ek bemaak my plaas aan my seun onderhewig aan 'n lewenslange vruggebruik aan my eggenote. Hierdie vruggebruik is soms uitgebrei na aandele, vee en ook beleggings. Die gevolg van die bepaling in die testament is dat die eggenote geregtig is en daarop kan aanspraak maak om al die vrugte (opbrengs) van die bate te kan geniet. Al die inkomste en winste en as dit lewende hawe is, ook die nasate van die vee kom die vruggebruikhouer toe. Die houer van die vruggebruik behoort nie die aard van die bate te verander nie. Ons merk soms dat die vruggebruikhouer hierdie reg informeel of gedeeltelik of ten volle afstaan gedurende haar lewe en haar nageslag (eienaar van die blote eiendomsreg) toelaat om die bate vir hulle eie voordeel te benut en te geniet. Nieteenstaande of die vruggebruikhouer die reg informeel afstaan of nie, daar is ernstige finansiële gevolge vir die blote eiendomsreghouer. By dood van die vruggebruikhouer word die vrug se waarde ingesluit vir boedelbelastingdoeleindes gebaseer op 'n formule waar die lewensverwagting van die blote eiendomsreghouer gebruik moet word. Die vrug verdwyn nie net by dood nie, maar word vir boedel- belastingdoeleindes waardeer. Dikwels beteken dit dat daar wesenlike boedelbelastings betaalbaar word, dikwels op bates wat nie eers deur die oorlede eggenoot benut is nie. Op 'n bate wat R10 miljoen werd is, wat onderhewig was aan vruggebruik aan 'n eggenote, kan 'n 50 jarige seun verplig word om boedelbelasting van R1,8 miljoen te betaal. Mense is onbewus van hierdie insluiting vir boedelbelastingdoeleindes en voorsiening word dikwels nie daarvoor geskep nie. Enige persoon wat 'n vruggebruik besit behoort 'n finansiële raadgewer te nader oor metodes om met die vrug te handel terwyl die vruggebruiker nog lewe. Daar is metodes waar die vrug van die hand gesit kan word. Indien dit eers na dood aangespreek word, mag dit 'n wesenlike koste vir die eienaar van die bate tot gevolg hê. Nelius Smith Direkteur: Boshoff Visser Finansiële Dienste (Edms.) Bpk. Boshoff Visser Finansiële Dienste (Edms.) Bpk. aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige besluit wat enige leser op grond van die bogenoemdemag neem nie. Ons beveel aan dat u u finansiële adviseur spreek voordat u enige besluit in verband met u finansies neem. Boshoff Visser Finansiële Dienste (Edms.) Bpk. is ’n gelisensieerde finansiële diensverskaffer met lisensienommer: 11969.