Agri Kultuur February / Februarie 2016 | Page 77

meester Riaan Wassung vertel dat druiwe ook vanuit die Bottelarypad omgewing ingekoop is. Dit is toe versny en in tweede vul vate vir agtien maande verouder voordat dit in Oktober 2015 gebottel is. Die wyn het ‘n besonderse donker kleur, en herinner aan swartaalbessie en rooibessies. Dit het ‘n subtiele houtkarakter, met ʼn skoon maar blywende nasmaak. Die wyn het ‘n goeie tannienstruktuur en kan nog ‘n jaar of wat lê, of dadelik geniet word. Die Krigeville-wingerd word nie net vir kommersiële wynmaakdoeleindes gebruik nie. Elke Augustus vaar die vierdejaar Maties wat BScAgric (Wingerd- en Wynkunde) studeer daarin, om sake uit te spook in ‘n snoeikompetisie, met FELCO Tools Africa as hoofborg. Daar word gekyk wie kan behoorlik vasvat met ‘n snoeiskêr! Dr Albert Strever tel onder diegene wat sorg vir opleiding en navorsing in wingerdboukunde aan die US. Hy bestudeer tans onder meer die toenemende gebruik van afstandswaarneming en robotika in SuidAfrikaanse wingerde. Op ‘n praktiese vlak leer hy en sy span ook studente oor die fisiologie van ‘n druiwestok, en hoe dit hanteer moet word om die beste moontlike oes tafeldruiwe, rosyntjies of wyndruiwe op te lewer. Snoeiwerk word gewoonlik vir die laatwinter gehou, wanneer wingerdstokke meeste van hul blare verloor en in ‘n dormansiefase ingaan. Strever vertel dat Cabernet Sauvignon ‘n laat kultivar is, wat tipies eers einde Maart geoes word. Daarom word die kultivar gewoonlik ook eers teen Julie of Augustus gesnoei wanneer grondtemperature na die ergste winterkoue weer styg. “In die bedryf is daar die gesegde dat mens vroeg snoei vir blare, laat vir vrugte,” vertel Strever in sy kantoor in die Paul van der Bijlgebou. Dit beteken dat wingerdkundiges so lank moontlik sal wag met snoeiwerk as hulle wil seker maak die stokke lewer baie vrugte op. Die logistiek van sommige groter plase bemoeilik egter soms sake, en dan kan daar nie anders as om vroeër te snoei nie. In die bedryf word geglo dat hoe vroeër mens snoei, hoe vroeër vind al die fisiologiese prosesse wat tipies in ‘n wingerd is plaas – van die bot- en blomfase tot die uiteindelike oesdatum. Soos ‘n goeie wetenskaplike was Strever egter nie noodwendig oortuig dat dié gesegde 100% waar is nie. Voorbeelde uit onder meer Kalifornië se rosyntjieproduksiegebiede het hom aan die dink laat sit. Hier word wingerde soms al tydens oestyd gesnoei, met die druiwe wat sommer so aan die stokke droog word. So het hy oor die afgelope vier jaar ‘n informele proef in die Krigevillewingerd van stapel gestuur, om te kyk of dit enigsins ‘n verskil maak om Cabernet Sauvignon heelwat vroeër te snoei. Dis waarom oplettendes wat daar verby ry, rondom Mei soms al werkers in dié wingerd sal sien, aan die snoei aan geselekteerde stokke. Volgens sy voorlopige bevindinge lyk dit asof die stokke “slimmer” is as wat mens dink, en hul natuurlike gang gaan sonder om verlei te word deur veranderende snoeitye. Ja, dit bot vroeër, en ja, dit blom bietjie vinniger, maar op die ou einde lyk dit vir Strever of die vroeggesnoeide wingerde in ‘n gewone jaar steeds eers reg is vir oes rondom die gebruiklike tyd. Hy wil in die volgende paar oesjare vasstel of die vervroegde snoeiskedule enigsins die stokke se vrugbaarheid weldra beïnvloed. Styseltoetse sal ook gedoen word om te sien of dié stokke slegter daaraan toe is omdat hulle dalk meer op hul reserwes begin teer. Om Die Laan Cabernet Sauvignon 2014 te bestel, kontak Riaan Wassung ([email protected]) of besoek die Facebook blad “Die Laan Wines”. Foto’s verskaf deur FELCO TOOLS AFRICA (PTY) LTD