Agri Kultuur February / Februarie 2016 | Page 54

I nwoners van Huis Vergenoegd in die Paarl het Donderdag 11 Februarie ‘n tjek van R11 000 aan Agri Wes-Kaap se droogtehulpfonds oorhandig. Die voorsitter van die inwonerskomitee, dr Francois Knoetze, sê ‘n plaaslike tafeldruiweprodusent, mnr Aat Hoekstra, het ingestem dat ‘n groepie van die inwoners soggens 05:00 tafeldruiwe op sy plaas kan pluk wat dan aan die inwoners van die tehuis verkoop is. “Sodoende is geld ingesamel, maar kon ons ook ‘n aktiwiteit aan inwoners bied wat hulle baie geniet het,” sê hy. Behalwe vir die geld wat met die druiweverkope ingesamel is, het inwoners ook onder mekaar geld ingesamel. Die skenking is tydens Huis Vergenoegd se jaarlikse vrugtefees aan Agri Wes-Kaap oorhandig, waar al die vrugte deur plaaslike produsente geskenk is. “Uit dankbaarheid vir die welwillendheid van ons Paarlse boere en met die wete dat baie boere elders in nood verkeer, hoop ons dat hierdie skenking iewers ‘n noodtoestand kan help verlig,” het dr Knoetze gesê. Mnr Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê landbou in die Wes-Kaap het groot waardering vir hierdie gebaar van welwillendheid in ‘n tyd wat dit baie swaar met baie van ons produsente gaan. “Elke bietjie help. Al wat ons kan sê, is baie, baie dankie.” Die voorsitter van Huis Vergenoegd se inwonerskomitee, dr Francois Kotze (regs) oorhandig die inwoners se bydrae aan mnr Carl Opperman.