Agri Kultuur February / Februarie 2016 | Page 46

Artikel deur RPO WES-KAAP Photo:: https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/5/5e/Beef_inspection_USDA.jpg O m die droogte en produksie in perspektief te plaas is dit nodig om die Wes-Kaap se rooivleis-produksiegebiede in drie duidelik-gedefinieerde gebiede op deel, naamlik die Suid-Kaap/ Overberg, wat ongeveer 49% van die provinsie se diere bevat, Koeberg/Swartland en Weskus/ Namakwaland met ongeveer 29% van die diere, en Sentrale Karoo met ongeveer 22% diere. Die Suid-Kaap/Overberg-gebied het die afgelope twee tot drie jaar bogemiddelde reën- en oesjare gehad met gevolglik heelwat oesreserwes en surplus weiding. Ons is baie dankbaar vir al die voerskenkings wat uit hierdie gebied met die hulp van Agri WesKaap en privaatondernemings aan die produsente in die droogtegebiede van die Wes-Kaap en na dié in die Noorde van die land gestuur is. Die produksie van rooivleis, wol en melk in hierdie gebied kan vanjaar weer, met goeie boerderypraktyke, gehalte produkte aan die verbruiker lewer. Heelwat beeste, veral vroulike diere, is as hulpmaatreël vanaf die droogtegebiede in die Noorde na hierdie streek verskuif. Biosekuriteit moet egter altyd voorrang geniet as vroulike diere vanuit enige gebied na ‘n ander gebied geskuif word. Die Koeberg/Swartland en Weskus/ Namakwaland-gebied: Gebiede noord en wes van Piketberg maak deel van hierdie streek uit wat die afgelope seisoen ondergemiddelde tot baie swak graanoeste gehad het en gevolglik baie min tot geen somerweiding of oesreste vir diere beskibaar het. Produsente wat surplus-oesreste en voergrane vanuit die Swartland en Koeberg suid van Moorreesbug beskikbaar het, moet asseblief met hulle landbouverenigings of Agri WesKaap in verbinding tree sodat die vervoer daarvan na die droogtegeteisterde gebiede gereël kan word. As die lamseisoen begin, kan dit tot groot probleme lei as genoeg hoëgehalte voer nie beskikbaar is nie. Heelwat bees- en skaapprodusente in hierdie gebied het al hul kuddes verminder of selfs totaal uitverkoop. In die Namkwaland-gebied waar skade deur probleemdiere ook nog groot getalle van kuddes wegvat, is produsente onder groot druk om hul kuddes met duur voer te behou. Die grootste krisis wat in hierdie gebied kan ontstaan, is as die drinkwater van diere en mense begin min raak. Berigte van boorgate wat begin opdroog en damme wat leeg is, is reeds ontvang. In die Namakwaland- en Weskusgebiede is daar heelwat kleinboere wat nie kapitaalsterk is nie en wat in sulke droogtetoestande baie swaar kry.