Agri Kultuur February / Februarie 2016 | Page 38

Artikel deur Dr Gerhard H Verdoorn Griffon Gifinligtingsentrum Photo: Chris Kriel D arwinisme is ‘n filosofie waaraan baie mense steeds glo naamlik oorlewing van die sterkere indiwidue in spesies. Daar is egter ‘n groot klemverskuiwing in hierdie basiese filosofie na oorlewing van die aanpasbares in spesies en juis in landbou is dit uiters noodsaaklik dat ons elke dag daaraan dink en daaraan werk. Ons werk hard aan kultivars en rasse wat droogtes, siektes, peste en plae kan weerstaan en wonderbaarlik slaag ons tot ‘n groot mate daarin. Dink maar aan die nuwe droogtebestande mielies en Ngunibeesras wat die aanslae van die natuur met gemak hanteer; dit is sulke ontwikkelings wat landbou steeds volhoubaar en winsgewend maak. Wat ons egter heeltemal vergeet is dat die natuur se organismes net so hard daaraan werk om by uitdagings aan te pas en dit nogal die uitdagings wat die mens voor sy deur gooi. Een van die mees basiese tegnieke wat enige spesies in sy bestaan toepas is oorlewing. Dit word tot ‘n groot mate gedryf deur die genetiese diversiteit binne ‘n spesie wat beteken dat daar inherente verskille tussen indiwidue van die spesie bestaan. Hierdie verskille is ‘n buffer teen uitwissing want as een of ander trauma die spesie tref sal ‘n deel van die bevolking nadelig getref word maar ‘n ander deel sal dit kan oorleef – laasgenoemde is die aanpasbares wat die spesies se voortbestaan verseker. Dit verskil hemelsbreed van wat ons met gewasproduksie doen naamlik om spesifieke eienskappe te selekteer en daarvoor te teel. Dit veroorsaak dat landbougewasse en produksiediere hoogs produktief mag wees maar weerstand teen ‘n groot aantal ander elemente inboet omdat die indiwidue van die bevolking se verskille op genetiese vlak uiters gering is. Wanneer ons plaagbeheer toepas, is ons de facto besig om die spesies te selekteer vir bepaalde eienskappe naamlik die vatbaarheid vir plaagdoders. Dit wil sê dat plaagbeheer die onaanpasbare indiwidue uit die plaagspesie se bevolking verwyder en die aanpasbare indiwidue in die proses onaangeraak laat. Hierdie tendens wat ons sodanig bevorder staan bekend as weerstandontwikkeling. In eenvoudige terme gestel beteken dit dat ons die “slimmes” in die bevolking onaangeraak laat en die “dommes” met plaagbeheer uit die bevolking verwyder. Die nagevolge is dat die landbousektor eindig met baie slim of dan totaal weerstandbiedende plaagspesiebevolkings wat onmoontlik is om te beheer. Weerstand teen plaagdoders kan op drie maniere gekataliseer word. Die eerste is deur ‘n plaagdoder onder die aanbevole dosis aan te wend of oneffektief aan te wend. Wanneer dit gebeur word slegs ‘n gedeelte van die vatbare indiwidue